Gaan na inhoud

Jules Verne

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jules Verne
Jules Verne in 1856
Gebore
Jules Gabriel Verne

(1828-02-08)8 Februarie 1828
Sterf24 Maart 1905 (op 77)
Amiens, Frankryk
NasionaliteitVlag van Frankryk Frankryk
BeroepRomanskrywer, digter en dramaturg
Bekend virVoyage au centre de la Terre (1864)
Vingt mille lieues sous les mers (1870)
Le Tour du monde en quatre-vingts jours (1873)
L'Île mystérieuse (1874–1875)
EggenootHonorine Hebe du Fraysse de Viane (Morel) Verne
KindersMichel Verne en stiefdogters Valentine en Suzanne Morel
Handtekening
"Die vuurtoring aan die einde van die wêreld" word beskou as een van die beste romans van Jules Verne se literêre genre.

Jules Gabriel Verne (Frans: [ʒyl vɛʁn]; 8 Februarie 182824 Maart 1905) is die bekendste Franse skrywer van wetenskapsfiksie. Hy stel hom ten doel om die tegnologiese en wetenskaplike vooruitgang van die 19de eeu in die vorm van romans aan die algemene publiek te verduidelik.

Weens die tekortkomings van die destydse natuurwetenskaplike onderwys in Franse skole word hy deur die uitgewer Pierre-Jules Hetzel aangemoedig om sy boeke só te skryf dat hulle ook as 'n nuttige hulpmiddel kan dien om bekende en toekomstige tegnologieë aanskoulik te verbeeld.

Boeke soos Michel Strogoff en Die reis om die wêreld in 80 dae is van die gewildste jeugboeke wat nog geskryf is. Jules Verne is op 8 Februarie 1828 in Nantes in Frankryk gebore. Hy het in die regte gestudeer, maar ’n joernalis geword.

Hy het verskeie blyspele geskryf en ook saamgewerk aan 'n tydskrif vir kinders. In 1862 het hy 'n kontrak met die uitgewer Jules Hetzel (1814–1886) gesluit wat hom verplig het om 2 romans per jaar te skryf, 'n ooreenkoms wat hy tot met sy dood gestand gedoen het. So het die beroemde Voyages extraordinaires ("Wonderbaarlike reise") tot stand gekom, met illustrasies deur onder andere Edouard Riou en A.M. Neuville.

Sy oeuvre sluit afgesien van die essayistiese werk ook 65 romans en 18 verhale in wat in talle tale vertaal is. Van sy boeke is later ook verfilm. Van sy bekendste werk is onder meer Vyf weke in 'n lugballon (1863), Na die middelpunt van die aarde (1864), Die reis na die maan (1865), 20 000 myl onder die see (1870), waarin die beroemde kaptein Nemo aan die roer van die duikboot die Nautilus die hoofrol speel, Die geheimsinnige eiland (1874) en Die reis om die wêreld in 80 dae (1873), met as helde die Engelsman Philéas Fogg en sy hulp Passepartout.

Van die klassieke werke is Die kinders van kaptein Grant (1868), Michel Strogoff (1876), Robur die veroweraar (1886), Mathias Sandorf (1885), en Le secret de Wilhelm Storitz ("Die geheim van Wilhelm Storitz"; 1910). Veral na die Tweede Wêreldoorlog het daar 'n nuwe belangstelling in die werk van Jules Verne ontstaan. Die reise het die karakter van 'n inwyding, die avonture is ’n toets vir volwassenheid en net soos in die Middeleeuse ridderromans, is daar altyd 'n skone, maar onbereikbare dame.

Verne word dikwels beskou as een van die grondleggers van die wetenskaproman. In sy boeke het hy allerlei 20e-eeuse uitvindings soos lug- en ruimtevaart voorspel. Ander toekomsdrome, soos om die stand van die wentelas van die aarde te verander, is egter nog nie verwesenlik nie. Verne het egter uitsluitlik belang gestel in die tegniese aspekte van die nuwe wêreld.

Sy geleerdes speel meestal nie ’n bepalende rol in die verhale self nie en wanneer hulle wel aan die avontuur deelneem, is hul selde simpatieke karakters. Daar is ook baie gespekuleer oor die politieke implikasies van sy boeke. Sommige krictici beskou hom as 'n revolusionêr, veral op grond van Mathias Sandorf, die Hongaarse vryheidsvegter wat hom as verdediger van die verdrukte volksmassa daarstel.

In Les naufragés du Jonathan (1909) het Verne 'n baie pessimistiese beskouing van die samelewing van sy tyd gegee. Verne het sy gewildheid in die eerste plek te danke aan die feit dat hy 'n ongeëwenaarde verteller was en helde geskep het wat hulle onderskei het deur hulle strewes na 'n ander wêreld: of in die heelal, of onder die see, 61 in die binneste van die aarde.

Die boorling van die Franse stad Nantes skryf sowat 60 boeke wat ook die materiaal vir 'n reeks rolprente lewer. In 1905 sterf hy in Amiens (noord van Parys).

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Jules Verne se toekomsblik. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 19, nr. 4, Junie 1970
  • Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0-908409-69-9, volume 28, bl. 124

Eksterne bronne

[wysig | wysig bron]